Saturday 25 December 2021

Eerlike Transaksies

 

Ahoy daar eerbare vennote! Dit is moeilik om met my kennis Van Hunks te kommunikeer as hy sy pyp heeldag al so gerook het dat jy Tafelberg nie meer mooi kan sien nie! Ons gesels gister oor Corona en Kersfees daar op die kaai waar jy die robbe en seemeeue kan sien. Corona en Kersfees is albei is nou al selfs kommersieel en internasionaal baie goed gevestig. Met Corona of te wel Covid-19 probeer mense nog onderskei oor propaganda-gedrewe regeringsagendas teenoor nagevorsde feite en vryhede, - maar wat Kersfees betref word daar skynbaar nou nie meer onderskei of dit mense of God behaag nie? Van Hunks en ek bly besorg oor handel en nywerheid, veral daar waar die Bybel profeteer oor Babilon die Grote wat val en hoe die seekapteins treur oor ekonomiese ineenstorting. Hou mense nog kop tussen reg en verkeerd, misleiding en standvastigheid, deesdae? Op watter fondasies, beginsels en wette kontrakteer ons? Met wie? 




Saturday 11 December 2021

Handeldryf met die Dood

 

Ahoy daar geprikkeldes en vryburgers! Gister rook en en Van Hunks weer goeie twak vanaf die Cock en Bull daar op die Victoriakaai in die Kaapstadse hawe. Ons wag nog steeds vir vrag. Wat ander mense rook weet ons nie, maar iewers is groot fout! Daar is blykbaar dele van die globale ekonomie wat miljarde in winste toon. Dis glo mensehandel en handel dryf met verminking en die dood. Nou wonder ek en Van Hunks of ons nie ook maar soos die kerke, die regerings en die ekonomie eerder maar ons fokus moet verskuif en ons etiek ter syde stel sodat ons ook kan deel in hierdie Nuwe Orde se Ekonomie nie? Die weg, die waarheid  en die lewe is blykbaar nou oudmodies?


 


Sunday 21 November 2021

Wortels en Fondasies


 Ahoy daar Christen filosowe! Rondom my is meer sprake van ekonomiese oplewing, hoewel die vrugte nie sigbaar word nie. Nou wonder mens of daar swak wortels of swak fondasies kan wees vir wat ons hier in en om Suid-Afrika aanpak? In kerkkringe hoor ek van "the root determines the fruit". 'n Ekonomie verg ook stewige fondasies om sterk te staan boontoe, - veral as ons erns maak om Afrika volhoubaar te help ontwikkel. Is ons Christelike fondasies gebrekkig, of is daar 'n ander, reeds bestaande, swak wortel of fondasie in SA? Hoe stel ons dit spoedig reg?



Sunday 14 November 2021

Dubbelhartigheid


 Ahoy daar vennote en kontrakteurs! Invoere en uitvoere kan baie papierwerk oplewer so tussen finansiering, waarborge, vervaardigers, leweransiers, verpakkers, bergingsruimte, inspeksies, doane en aksyns, aflewering, belastings, fooie en ander kostes. Maar as daar nou 'n lastigheid is, is dit dubbelhartigheid. Die "Ja" wat "nee" beteken of die "nee" wat met dubbelhartigheid later verwytend voorgehou word. Daar is skynbaar oral dubbelhartigheid te bespeur. In die kerke, in die politiek, in besigheid en tussen ons mense. Met goeie Christelike waardes behoort besluite mos nie so moeilik te wees nie.



Wednesday 10 November 2021

Besigheid in Afrika

 

Ahoy daar, besigheidsmanne in en om Suid Afrika! Ek sit toe laasweek nog so my pyp en rook saam met Van Hunks daar op die kaai in die Kaapse hawe terwyl ek wag vir die ekonomie se beloofde oplewing en vrag om mee te gaan handel dryf so al om die kus van Afrika, - toe gryp die duiwel ons in 'n sygangetjie in! Nee reken hy toe, - ons seekapteins mors ons tyd. Sy 300 vennote het 'n ander plan. Ek trek vir Van Hunks daar weg en beduie dat ons nou self 'n plan sal moet uitwerk. Ons gaan besigheidsmanne en skeepsmagnate moet oortuig om alternatiewe ekonomiese modelle in Afrika te bewerkstellig! Afrika gaan moet leer om as verantwoordelike rentmeesters van ons landstreke en al Afrika se minerale, hulpbrone en geplunderde skatte op te tree. Van nou af onderhandel ons self met ons erfreg, ons erfporsie en dit wat op eie bodem beskik is!  

 



Sunday 24 October 2021

Sit, staan of gaan?

 

 

 

Ahoy daar verarmdes, verdrukdes en bloeiers! Dit begin nou vir my hier op die kaai waar ek die pyp probeer rook terwyl ek wag vir vrag om handel te dryf in en om Afrika, lyk asof daar nie werklik 'n strategies-ekonomiese plan van aksie is nie? Wie dryf Suid-Afrika se ekonomie? Van waar, waarheen? Ek hoor hier is 'n Geloftevolk in SA! Waarvandaan en waarheen op pad, ten bate van wat, - internasionaal bevriend met wie? Maar wat ek uit strategiese en internasionale ondervinding kan voorstel is dat ons ophou rondsit en klets of ons toekoms probeer uitkontrakteer en koppe bymekaarsit met deurdagte strategieformulering, - iets soos Hannibal al voor Christus, - sodat ons kan vooruitkom!

 


 


Sunday 17 October 2021

Die "V" in Vrees!


 Ahoy daar bevreesde burgers! Wat 'n gedoente! Eers moet ek hier aan wal rondsit en wag vir vrag voordat ons weer kan seil, en nou moet ons wag vir 'n gogga wat glo nog nie werklik ge-identidfiseer is nie. Maar almal vrees die "gogga" wat glo nie deur masker gekeer kan word nie, maar tog oorleef meer as 99% van mense hierdie "pessiekte"! Daar is glo al in 1970 'n fliek en boeke asook dokumente oor die Covid-19 pestelensie gemaak en geskryf? Ander praat weer van 'n papieroefening en 'n proeflopie.'n Proefneming d.m.v. inspuitings word glo aanbeveel, maar die verpakking van die medikasie bevat geen details oor die inhoud en waarborge of moontlike newe-effekte van die behandeling nie. Verstommend is politici, werkgewers, reisagente, doanebeamptes, lugdienspersoneel en mense op straat die eksperts in die pessiekte terwyl niemand regtig die kort, medium of langtermyn effekte van die inpsuiting kan noem of waarborg nie? Wat 'n gekheid het onder die mense hier aan wal uitgebreek?



Sunday 3 October 2021

Saamwerk!

Ahoy daar vriende en verdeeldes! Dit lyk hier aan wal asof ons mense nie die omvang van die aanslag van ongeregtigheid teen ons wil begryp of verwerk nie? Daar word steeds nie in eendrag en in een juk volgens 'n behoudende konsensusstrategie saamgewerk en saamgetrek om die verskansende strukture of kritiese bates na dieper water en weg van die rotse of driwwe in vloed getrek te kry nie? Hoe kan die verdeeltheid en onsamehangende aksies ooit iets goeds oplewer? Hierdie ongekonsolideerde benaderings van ons dag en tyd, laat al meer gesamentlike skade as erflating na!



Tuesday 14 September 2021

In die banke!


 Ahoy daar Christene in Suid Afrika! Is daar plek vir Christene in die politieke banke, en hoe kom ons van kerkbanke tot politieke banke? Die gewilde "evangelie" in die suburbs wil dat Christene net vir 'n uur of twee per week in die kerkbanke deurbring, en die res van die rusdag en die hele week is die hel los! Leef Christus nie deur jou en my tot op elke lewensterrein van ons gemeenskappe nie? Hoe sout, lig en suurdeeg ons dan Christen norme, standaarde en werkwyses daagliks oral en altyd as ons nie ook, - indien geroepe daartoe, - Christelik tot die politiek toetree nie?



Saturday 11 September 2021

Wat gaan aan?

 

Ahoy daar rentmeesters! Nou bekyk ek die storie so hier aan wal terwyl ek in die Kaap van Storms, - of is dit Goeie Hoop, - se hawe wag vir vrag. Wat 'n losgemaal en 'n geraas! Om gespuit te word of nie? As ek nou nog 'n stafoffisier was wat aan die Gesamentlike Weermagstafhoofde moes verslag lewer as inset vir die kritiese verdedigingsplan, sou ek meld dat dit uit navorsing en bronne lyk asof daar 'n massiewe globale "claw back" van geld uit regerings se belastingkoffers, pensioenfondse, die ekonomie en burgers se hande plaasvind na 'n sentrale manupulasie, terwyl bevolkingsgetalle verminder en streng beheer word! As behoudende rentmeesters tog maar so doelgerig en georganiseerd tewerk wou gaan ... !



Sunday 5 September 2021

Vloede van Ongeregtigheid!

Ahoy daar verdrukdes! Hier aan wal gaan dit meer ongemaklik as ooit. Onreg is die wagwoord. Die outoriteite wat moet regeer en regspreek, pleeg daagliks meer onreg en oortree daagliks meer van hulle landsburgers se regte. Dan word die ongeregtighede sommer ook na werkgewers en winkeleienaars gedelegeer, - om onomkeerbare impak op mense se lewens te maak! Die kerke blyk nie werklik aan die vloedwaters van ongeregtigheid te ontkom nie, en slaag ook nie om mense werklik teen onreg te beskut nie. Hoe stop ons die groeiende boosheid? 



Sunday 29 August 2021

In een juk trek!

Ahoy daar trekkers! Hier aan wal luister ek nou so na "my mense". Onder druk en erg geknel, maar steeds wederstrewig en onsamehangend. Is dit so moeilik om saam in een juk te trek met ooreengekome doelwitte voor die oog? Is ons soos slee honde wat in die tuig baklei of soos geoefende karperde wat die vrag, bagasie en passasiers by hulle doelwit of bestemming kry? Wanneer dan gaan ons weer saamtrek deur die drif en oor die berg?



Friday 6 August 2021

Al die stemme in my kop!

 

Ahoy daar vuisvoosvriende! Ja, hier is ek nog steeds in die hawe. Vraghantering is glo agter, of ekonomies vertraag. Op my seevaarte het ek sowat 36 of meer kulture ontmoet. Hier in Suid-Afrika hoor ek egter amper meer stemme as op ander plekke. Maar min verander. Inteendeel! Ter see is daar baie gevare, soos die Kraken wat pligsversuimende of aan die slaap matrose van die skip se dek af pluk! Die gewink van meerminne. Die reuse Albatros wat uitgeputte drenkelings in reddingsbote se oge uitpik! Groot golwe, storms, winde en groot rotse! Maar hier aan wal, in kerk en politiek, - het die dierasie, of die Volksliggaam of die Ligaam van Gelowiges baie monde en te min voete of hande. Hoe sal ons as versuimende rentmeesters dit dan alles nog betyds orden?



Wednesday 28 July 2021

Platgesuig of Uitgespoeg?


 Ahoy daar medekerkgangers! Hier aan wal in sonnige Suid Afrika kan die hawens op die Kaapse Seeroete skierlik nie vrag hanteer nie, - en net noudiedag was die Suezkanaal ook toe? Nou waar is die medewerkers van God dan, - op alle vlakke en terreine, ook in regerings- en werkplekke? Dit wil lyk asof die paar mense wat nog uit gewoonte kerk-toe kan gaan in 'v vortex op die kerkbanke vasgesuig word in pleks daarvan dat ons kerke soos 'n middelpuntvlietende krag, die vissersnet vir mense uitwerp in die oeslande wat braak bly?



Sunday 25 July 2021

Reddingsbote!

Ahoy daar sosio-ekonomiese mede-drenkelinge in en om SA! As ou matroos vra ek nou, is die reddingsbote gereed? Is hulle toegerus en getoets? Is die noodrantsoene en seekaarte, die kompas, die teleskoop, die bybels en gesangboeke versien en verpak? Kampeer sommiges reeds al vir geruime tyd in reddingsbote? Waarheen gaan ons in die reddingsbote as die Nuwe Suid Afrika aanhou sink? Wie voer die reddingspoging aan?



Tuesday 20 July 2021

Die Werke van die Kerke!

 

Ahoy daar Gelowiges! Hier aan wal in Suid Afrika lyk die hele prentjie maar vir my stroef! Soveel Christene en so min vrugte? Wat het dan geword van die Kerk van Handelinge of die Hervorming? Hoe kan dit wees dat geen Christen inspraak het of maak op al die korrupte fasette en voortsettings van verval rondom ons almal nie? Het ander gode die Lewende God uit SA verdruk? Wat se invloed het dit op die res van Afrika as God se medewerkers hier maar nog bietjie sluimer en slaap?

 


 


Saturday 17 July 2021

Pasop! Ysberg!

Ahoy daar, - nee ek bedoel pasop daar! Ysberge soos waarneembaar is gewoonlik net een vyfde of een sewende van die stuk gevaarlike ys onder die water. Die harde ys skeur 'n skip se romp maklik, - sny dit oop soos 'n blikkie sardientjies, - soos wat met die Titanic gebeur het. Nou gebeur dit met die SAtanic! Onluste in SA, wat moontlik net die punt van 'n reuse beplande ongeluk tot groot skade kan wees. Is die SAtanic se bemanning en passasiers instaat om die gevaar die hoof te bied?



Wednesday 14 July 2021

Noodgevalle!

Ahoy daar landgenote onder druk hier in Suid-Afrika! As daar baie rook van 'n skip af kom is dit omdat die skip met die kosbare vrag van opgeleide bemanning, passasiers en ekonomiese middele aanboord aan die brand geslaan het. Dit verg dringende optrede aanboord en soms hulp van buite. Noodposte aanboord moet beman word en die regte aksies moet plaasvind! Dit is nie onderhandelbaar of 'n saak vir eiesinnige verdeelthede met fragmenterende agendas nie. Dit lyk nie tans of Suid-Afrika as sinkende skip oor enige dissipline, vaardige leiers, kritiese samewerkings of Godvresende begeestering beskik om die brandende en sinkende skip te red nie. Reddingsbote of kantlyntoeskouer-uitkykpunte met die beste stuurmanne in verskeie klein groepies aan wal, is nie 'n funksionele skip nie! Dit is in sekere situasies van rampe en nood so dat 'n interim adviesgroep benodig word en 'n raad van ondersoek 'n rampspoedige herhaling moet verhoed.



Wednesday 7 July 2021

Alles sal regkom!

 


 Ahoy daar verdrukdes in Suid Afrika! Dis nou 'n tydjie wat ek hier aan wal vertoef voor ek weer eersdaags vertrek. Maar dinge het darem sleg agteruitgegaan hier. So onder ons neuse! Verstommend hoe ons dit maar gade slaan en skade ly? Kan ons nog vashou aan ou spreekwyses soos "Alles sal regkom"? Nee, ek glo nie so nie. Ons sal ons self elkeen eerstens aktief en doelgerig moet beywer vir reg en geregtigheid, en baie beter moet saamwerk, - voordat isolasie, individualisme en fragmentasie of georkestreerde ondermyning ons ondergang nog verder veroorsaak.



Friday 2 July 2021

Saamwerk!


 Ahoy daar bedreigde spesies hier aan wal! As die soldate van ongeregtigheid fel toeneem is dit mos juis die tyd om saam te staan en saam te werk. Dit is tog ou en bewese beginsels. Waarom ignoreer ons dit tot ons eie groeiende skade?



Friday 25 June 2021

Hulle spyker ons!

 


Ahoy daar kantlyntoeskouers en gewoonte-slagoffers hier langs die Kaapse seeroete! Ai, ek sukkel steeds hier aan wal! Te veel regulering wat goeie besigheid belemmer, - maar met noudiedag se skip wat die Suezkanaal verstop het soos 'n knoop in die derm, wys dit my dat daar ekonomies-ontwrigtende gevare op see ook is. Ek hoor nou die Covid is soos 'n Marlynvis. Dit het 'n "spike"! Goed, nou nie 'n protein-spike nie, maar steeds. Glo lewensveranderend, ook vir die nageslag. Nee, om 'n landrot te wees is verseker nie vir kerk- en skeepsvragruimmuise nie!


 


Wednesday 23 June 2021

Tonteldoosaksie!

 

Ahoy daar Afrikanervriende! Waarom dan nou net Afrikanervriende? Omdat ek wonder oor of ons mense werklik mekaar se vriende is as ons so leierloos-verdeeld rondploeter, tot groeiende wedersydse skade? Is daar nog enige gloeiende kooltjie onder die dik laag as van volksapatie? Watse tipe tonteloosaksie het ons nodig om al hierdie grys paddatjies uit die vaalpaddatjie-prutpotjie en verval van die Nuwe SA, - wat nog van 'n plandemie, - te kry?



Saturday 19 June 2021

Rentmeesterkap of Ruggraatloosheid?


 Ahoy daar Boere en Burgers in die Nuwe SA, beter vir almal met die beste grondwet in die hele wereld! Noudieaand is ek buite om grensdrade na te gaan in misdaad-geteisterde semi-landelike omgewings, terwyl ek nou nog in SA aan wal, gewapen en gemasker is. Daar, in die nagsedonker, ontdek ek toe 'n Chupacabra besig om onder die agterste grensdraad deur te grawe! Die Suidelike-Afrika spesie van hierdie demoniese gedierte, oorspronklik van Suid-Amerika of Rooms, suig nie bokmelk uit nie, maar suig die rugmurg en deel van die brein van ons mense uit as hulle slaap. Dit teiken veral leiers in kerk en poltiek, lyk dit my. Dit suig vas daar waar die vals heilige gees in sommige van ons kerke die Yoga oefening goedpraat en selfs geleentheid daarvoor bied in die kerksaal of by die seminarium. Dan blaas die Chupacabra die Kundalinigees in daar waar gesonde verstand en rugmurg op Christen beginsels eers geverstig was ... Of hoe het ek dit nou? Maar verseker gaan dit net al slegter, rigtingloos en leierloos met ons almal!



Thursday 4 March 2021

Die Covid Kultus en die NDR!


 Ahoy daar SAners! Ek sukkel nou al van Maart 2020 af om uit die hawe te kan seil met 'n vol vrag! Dinge soos "inperkings", ekonomiese netwerke wat inplof, gemaskerde amptenare wat hulle soos seerowers en struikrowers gedra, en lui-lekker matrose wat 'n minimum-loon eis, hou sake ernstig terug. Nou is dit ook nie seker watter internasionale hawens nog oop is nie en of alle vrag nou vir die Vatikaan of Jerusalem bestem is nie? So by Neptunis se vurk, - dis 'n deurmekaar stormsee hierdie!