Wednesday 28 July 2021

Platgesuig of Uitgespoeg?


 Ahoy daar medekerkgangers! Hier aan wal in sonnige Suid Afrika kan die hawens op die Kaapse Seeroete skierlik nie vrag hanteer nie, - en net noudiedag was die Suezkanaal ook toe? Nou waar is die medewerkers van God dan, - op alle vlakke en terreine, ook in regerings- en werkplekke? Dit wil lyk asof die paar mense wat nog uit gewoonte kerk-toe kan gaan in 'v vortex op die kerkbanke vasgesuig word in pleks daarvan dat ons kerke soos 'n middelpuntvlietende krag, die vissersnet vir mense uitwerp in die oeslande wat braak bly?



Sunday 25 July 2021

Reddingsbote!

Ahoy daar sosio-ekonomiese mede-drenkelinge in en om SA! As ou matroos vra ek nou, is die reddingsbote gereed? Is hulle toegerus en getoets? Is die noodrantsoene en seekaarte, die kompas, die teleskoop, die bybels en gesangboeke versien en verpak? Kampeer sommiges reeds al vir geruime tyd in reddingsbote? Waarheen gaan ons in die reddingsbote as die Nuwe Suid Afrika aanhou sink? Wie voer die reddingspoging aan?



Tuesday 20 July 2021

Die Werke van die Kerke!

 

Ahoy daar Gelowiges! Hier aan wal in Suid Afrika lyk die hele prentjie maar vir my stroef! Soveel Christene en so min vrugte? Wat het dan geword van die Kerk van Handelinge of die Hervorming? Hoe kan dit wees dat geen Christen inspraak het of maak op al die korrupte fasette en voortsettings van verval rondom ons almal nie? Het ander gode die Lewende God uit SA verdruk? Wat se invloed het dit op die res van Afrika as God se medewerkers hier maar nog bietjie sluimer en slaap?

 


 


Saturday 17 July 2021

Pasop! Ysberg!

Ahoy daar, - nee ek bedoel pasop daar! Ysberge soos waarneembaar is gewoonlik net een vyfde of een sewende van die stuk gevaarlike ys onder die water. Die harde ys skeur 'n skip se romp maklik, - sny dit oop soos 'n blikkie sardientjies, - soos wat met die Titanic gebeur het. Nou gebeur dit met die SAtanic! Onluste in SA, wat moontlik net die punt van 'n reuse beplande ongeluk tot groot skade kan wees. Is die SAtanic se bemanning en passasiers instaat om die gevaar die hoof te bied?



Wednesday 14 July 2021

Noodgevalle!

Ahoy daar landgenote onder druk hier in Suid-Afrika! As daar baie rook van 'n skip af kom is dit omdat die skip met die kosbare vrag van opgeleide bemanning, passasiers en ekonomiese middele aanboord aan die brand geslaan het. Dit verg dringende optrede aanboord en soms hulp van buite. Noodposte aanboord moet beman word en die regte aksies moet plaasvind! Dit is nie onderhandelbaar of 'n saak vir eiesinnige verdeelthede met fragmenterende agendas nie. Dit lyk nie tans of Suid-Afrika as sinkende skip oor enige dissipline, vaardige leiers, kritiese samewerkings of Godvresende begeestering beskik om die brandende en sinkende skip te red nie. Reddingsbote of kantlyntoeskouer-uitkykpunte met die beste stuurmanne in verskeie klein groepies aan wal, is nie 'n funksionele skip nie! Dit is in sekere situasies van rampe en nood so dat 'n interim adviesgroep benodig word en 'n raad van ondersoek 'n rampspoedige herhaling moet verhoed.



Wednesday 7 July 2021

Alles sal regkom!

 


 Ahoy daar verdrukdes in Suid Afrika! Dis nou 'n tydjie wat ek hier aan wal vertoef voor ek weer eersdaags vertrek. Maar dinge het darem sleg agteruitgegaan hier. So onder ons neuse! Verstommend hoe ons dit maar gade slaan en skade ly? Kan ons nog vashou aan ou spreekwyses soos "Alles sal regkom"? Nee, ek glo nie so nie. Ons sal ons self elkeen eerstens aktief en doelgerig moet beywer vir reg en geregtigheid, en baie beter moet saamwerk, - voordat isolasie, individualisme en fragmentasie of georkestreerde ondermyning ons ondergang nog verder veroorsaak.



Friday 2 July 2021

Saamwerk!


 Ahoy daar bedreigde spesies hier aan wal! As die soldate van ongeregtigheid fel toeneem is dit mos juis die tyd om saam te staan en saam te werk. Dit is tog ou en bewese beginsels. Waarom ignoreer ons dit tot ons eie groeiende skade?