Saturday 28 January 2023

Charlize is reg!


 Ahoy daar Afrikaanses! Vanoggend vroeg skrik ek wakker en besef Charlize is reg! Net 44 praat nog Afrikaans! Dit het seker iets te doen met die 144 000. Maar soos tyd aangestap het, - amper soos met Bybelvertalings, - water die taal skynbaar af? Vandag is Afrikaans as taal van min waarde, Taalmonument of Die Stempastorie Museum ten spyt! Waarom is dit my indruk? Omdat Afrikaans skynbaar nie plooibaar en relevant aanwendbaar is nie. Dit is 'n unieke taal, net aan die Suidpunt van Afrika, - maar dit stel nie die gebruiker in staat om te formuleer, defineer, te beplan, te bou, te oorwin, te handhaaf en te hou nie. "Leiers" wat hierdie taal besig toon geen kommunikasie of onderhandelingsvermoe wat al die ander wat ook die taal Afrikaans praat (of mompel), in hierdie ontstuimige tye tot oorwinning en prestasie lei nie! Afrikaans het 'n dooie taal van dooies geword.



Thursday 26 January 2023

Wat as ... ?

 

 

 

Ahoy daar enkele brawe Christene! Gister het die Loyds Register inspekteurs gestuur on na my en Van Hunks se skepe in die Kaapse Hawe te kom kyk. Die inspekteurs meen daar is te veel roes, hoewel ek verduidelik het dat goeie gehalte staalplate en goeie verf deesdae moeilik bekombaar is in Suid Afrika se gehawende ekonomie en swak hawedienste. Om in die donker binneboord of saans onderhoudswerk te probeer doen as die hawe se kragtoevoer af is (skeepskragopwekkers gebruik baie diesel), is ook 'n omslommernis wat ekstra onkoste, vertragings en oortyd teweegbring! Nou dink ek so na oor die verval in SA en die afvallighede wat wereldwyd opdoem. Niks is meer soos wat dit was nie! Tog word als maar gelate of kop in die sand aanvaar? Daar is net nie werklik eensgesinde optredes om dinge te help regstel nie, - of minstens op gesonde norme te laat gebeur nie. Maar wat as ons niks doen nie, of te vroeg ingryp, of te laat ingryp? Kan mens maar dinge net so laat begaan? Die skade, onreg en korrupsie word daagliks erger en kring al wyer uit!



Tuesday 10 January 2023

Wen ons die stryd?

Ahoy daar SAner, Christen en Afrikaner vriende. Vanoggend was ek verbaas dat Kaptein van Hunks en die Duiwel albei daar van Duiwelspiek-af op die kaai in die Kaapse hawe kom draai het om bietjie te gesels oor al die gebeure en al die kerke is SA. Die Duiwel reken die kerke en Christene maak geen verskil aan die toename van ondinge rondom ons in en buite SA nie! Daar is glo al te veel van die wereld in die kerk, ter wille van geld en status, terwyl die kerke, sinagoges en moskees almal in fel stryd met mekaar is. Volgens die Duiwel is baie "mooi dinge" en "goeie werke" eintlik uit sy koffers befonds. Nou weet ek nie so mooi nie. In die katkisasieklas het my Dominee destyds uitdruklik en publiek verkondig dat daardie kerk se leer die enigste en ware leer is ... hoewel ek noudiedag by 'n ander Christen kennis gehoor het dat net sy kerk reg is. Maar intussen word allerhande ongoddelikhede daar van die Wereld Ekonomiese Forum verkondig. Meer lees en bid, sluimer, slaap en hande vou of sagte kos en rusies sal alles seker eersdaags weer regstel?