Sunday, 30 June 2024

Prestasie

 

Ahoy daar mede-onderpresteerders! Dit gaan hier nou weer oor Christene wat onderpresteer terwyl Nuwe Ordes uitblink in hul dryfkrag om wereldwyd onreg teweeg te bring. Ons ken die Kaapse verhaal van Kaptein Jan van Hunks wat 'n pyprookkompetisie en weddenskap met die Duiwel op Tafelberg aangegaan het, en dat die twee toe so pyp gerook het dat 'n wolkekombers steeds soms oor Tafelberg hang! Soms gesels ek met Van Hunks daar op die kaai in die Kaapse Hawe, daar langs ons skepe wat wag vir vrag in 'n ekonomie wat internasionaal gemanipuleer word. Net vanoggend vertel Van Hunks weer vir my dat ek darem veels te bekommerd is oor ons mense in die kerkbanke wat hoegenaamd geen verskil maak aan die verval rondom ons nie. Hulle is getrou godsdienstig, meen Van Hunks. Die Duiwel reken glo dat dit 'n baie goeie ding is dat soveel Christene in die kerkbanke (bly) sit. Maar ek het weer gaan nadink toe Van Hunks my vertel dat hy eers weer nog tabak sal moet gaan kry, want sy kompetisie met die duiwel is steeds aan die gang. Zimbabwe het glo eens op 'n tyd baie tabak gelewer. Waarom het Christene in die ou Rhodesie en die Ou Suid-Afrika ekonomies so goed presteer? So ook in die "ou Weste". Europa, die VK, VSA, NZ, AU, Kanada en Duits-Wes. Want Christene het hard gewerk. Hulle het as verantwoordelike rentmeesters vir ses dae van die week al hulle werk gedoen! Daar is deesdae ook 'n ander faktor wat moontlik 'n oorsaak is van geloof sonder werke. Wereldbeskouing! Ons Christene hou nie meer God sentraal nie. Ook nie vir Jesus Christus as Koning op die troon van ons lewe nie! Ons handhaaf nie meer die Tien Gebooie op die tafels van ons harte nie en hou nie meer als wat in die Bybel as die Woord van God staan, as die standaard, riglyn en maatstaf vir ons denke, besluite en optrede nie. Elke lering onder die son oorweldig ons, terwyl ons apaties toekyk hoe onreg die groterwordende botoon voer rondom ons. Hoe gaan ons maak om effektief by herlewing, herstel en Koninkrykprestasie uit te kom? Spoedig! Geloof sonder werke is dood!



Thursday, 27 June 2024

Kerkgangers en Christene

 

Ahoy daar geloofsgenote in sonnige Suid Afrika! Verstommend hoe die Kerk verander het sedert die "Greatest Century of Missions" en die "Greatest Century of Reformation" (boeke geskryf deur dr Peter Hammond van Frontline Fellowhip). Iewers is die Heilige Gees se vuur geblus. Die kerk is louwarm in 'n halwe evangelie van kerk-toe gaan, tiendes, nagmaal, doop, troues en enkele bidure, en koffie na die diens, - maar die Groot Opdrag of sout. lig en Koninkryksuurdeeg wat ons gemeenskappe moet aanraak en verander, is afwesig. Die voorlopers van die Antichris en die werkers van onreg voer die botoon, wereldwyd! Ook in (89,8%) Christelike SA en (92%) Christelike DR Kongo waar ons SANW troepe nou die VN uithelp, maar verliese ly! Is dit omdat SA die Zioniste en hulle strydwaperde Britanje en Amerika se agenda bevraagteken? Wat is die rol van die Kerk in Afrika? 'n Blote geestelike selfbevrediging en ontsnapping van brutale werklikhede vir godsdienstige maar apatiese massas, of die ketelkamer vir gebed en geloof in aksie wat die verskil op alle vlakke, sfere en terreine van die samelewing moet maak? Waar is ons Christen Konings, Priesters en Profete? Die "pa van die huis"? Die Vyfvoudige bedieningsgawes wat alles moet en kan dek t.o.v ten volle funksionele en Volle Evangelie gemeentes, regdeur SA? Wanneer kom die Evangelie van Vrede terug in Suidelike-Afrika? Wanneer AL die kerke weer sendelinge of getuieniswerkers uitstuur om die Goeie Nuus te verkondig tot aan die uiterstes van die aarde. Ons mense, - ek en jy, - is Christene. Ons Christen mense weet van beter, - want ons ken die Weg, die Waarheid en die Lewe. Ons Christen mense is verantwoordelik!



Sunday, 9 June 2024

Gevriesde Vis


 Ahoy daar Dissipels! Vissers van mense! Maar hoor julle daar? Die visse is gevries! Die Vlug of Veg gereedheid van ons Christen Stryders het getaan! Terwyl die 2024 "demokratiese" verkiesing in SA nog geen oortuigende resultate gelewer het nie, voel dit asof belangrike dinge in en om SA aan 'n draadjie hang. Die onsekerhede en angstighede duur voort op grondvlak, terwyl die politieke elite redekawel, wedywer en konkel (vir eie gewin)! Waar is al die Christen SAners? Bevrore - soos Otzi die Ysman! Van gener waarde vir geregtigheid nie. Geen koalisie van al die mikro partye soos #Hope4SA en die talle ander wat stemme maar nie setels kry nie. Grondvlakstrukture in SA bly steeds te pap om daadwerklike en oortuigende inspraak of protes te lewer. Nuwe Ordes beur voort om ongeregtigheid te posisioneer voor 2030. Slaan my met 'n pap of bevrore snoek, - maar geloof sonder werke is ons ondergang!